1.TOESTAND VAN DIE MENSDOM

Die mensdom sal geken wees aan ongeregtigheid en wetteloosheid (Matt 24:12). Gedrewe deur bandeloosheid, onversoenlikheid en groeiende liefdeloosheid, sal selfaanbidding God se plek inneem (2 Tim 3:1-5). Vandag word menseregte bo God se wil gestel. Die mensdom sal in geheel sieker word, en daarby ook worstel met toenemende gesondheidsprobleme (Matt 24:7). Volgens die WGO neem diabetes, kankers en hepatitis B wereldwyd kommerwekkend toe.

2.TOESTAND VAN NASIONALE EN INTERNASIONALE VERHOUDINGE

Op nasionale en internasionale vlak sal verhoudinge toenemend versleg. Oorloe en gerugte daarvan sal die aarde met vrees vul (Matt 24:6,7). Navorsing deur die “Institute for Ecocomics and Peace” toon ‘n baie sterk toename in globale onrus en geweld oor die laaste tien jaar. Die mensdom sal in groeiende benoudheid en radeloosheid verkeer (Luk 21:25), omdat die wereld se vrede weggeneem word (Ope 6:4).

3.TOESTAND VAN DIE AARDE

Regerings en groot organisasies beywer hulle daarvoor om “die aarde te red”. Aardverwarming en klimaatsveranderinge het groot natuurrampe van oorstromings en erge droogtes tot gevolg. As gevolg hiervan kom hongersnood toenemend voor, en het een uit elke ses mense nie genoeg kos nie. Hongersnood word een van die wereld se grootste uitdagings, en is in die Bybel as ‘n eindtyd teken voorspel (Matt 24:7; Ope 6:5-8).

4.TOESTAND VAN DIE KERK

Misleiding sal die kerk toenemend binnedring, en talle Christene sal van die geloof afvallig raak (1 Tim 4:1). Vals profete en vals wonders sal die kerk korrupteer (Matt 24:5; Mar 13:22). Onder die uiterlike vertoon van kunsmatige Christenskap, sal die kerk daar kragteloos uitsien (2 Tim 3:1). Talle gelowiges sal die gesonde leer nie meer verdra nie, en die oor afkeer van die waarheid om predikers te versamel wat die gehoor streel (2 Tim 4:3).