“Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie,
sal Ek jou uit My mond spuug” (Ope 3:16).

Openbaring 1 tot 3 hou sewe briewe aan die destydse sewe gemeentes in Klein-Asië
voor, met ‘n boodskap aan elkeen, wat vandag nog van krag is.

Die brief aan die Laodicea gemeente, vergelyk hul beklaenswaardige geestelike
toestand met louwarm water.

Laodicea se water was afkomstig vanuit ‘n warm waterbron in ‘n naburige dorp. Teen
die tyd dat die water Laodicea bereik het, het dit afgekoel tot louwarm en onsmaaklike
water, wat ‘n mens liewer sou uitspuug. Op dieselfde wyse was die Laodicea gemeente
se louheid vir God ‘n walging.

TEKENS VAN GEESTELIKE LOUHEID

1.DIE HART IS NIE MEER BRANDEND NIE
“Dat jy nie koud is en ook nie warm nie” (vers 15).
Laodicea gemeente se liefde en ywer vir God het verkoel.
Verslapping in toewyding demp die liefdesvuur vir God, opgevolg deur
geestelike kragteloosheid en ‘n oneffektiewe, louwarm geestelike lewe.
Die kerk het ‘n behoefte aan nuwe vuur in harte – en ook op die kansel.

2.SELFVOLDAANHEID
“ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie” (vers 17).
Laodicea se welvaart het die gemeente in so mate met selfvoldaanheid gevul,
dat hulle Christus uitgesluit het. Wanneer welvaart, sukses en die self
gesentreerde lewe die god word, word Christus na buite gedryf.
Daarmee saam dryf die groeiende miskenning van Christus as enigste Weg
na God, die Verlosser uit Sy kerk.
Selfvoldane argumente en opinies wat verhef word bo die Woord van God,
hou ‘n groot bedreiging in vir die kerk se geestelike temperatuur.

3.GEESTELIKE BLINDHEID
“Ek raai jou aan om van My te koop…., salf om jou oë te salf, sodat jy kan
sien” (vers 18).
Alhoewel Laodicea bekend was vir die oogsalf wat daar gekoop kon word,
was hulle self geestelik blind. Geestelike louheid verblind ‘n mens vir jou
vervalle geestelike toestand. Verder verblind dit die visie vir God se wil en Sy
plan.

Die toestand van die Laodicea gemeente is verteenwoordigend van die verval
van die laaste dae kerk (1 Tim 4:1). Dit dien as waarskuwing teen geestelike louheid, en
maak ‘n dringende oproep tot bekering vanuit so ‘n toestand.

Gelukkig klop Christus aan die deur van so ‘n hart, en Hy staan gereed om dit in Sy
troue liefde te herstel tot ‘n nuwe en entoesiastiese verhouding met Hom.