Hebreërs 6:18,19 praat van ‘n hoop wat die Christen het,
as anker van die siel.
In hierdie konteks word verwys na die vaste hoop op die ewige lewe.
Die uitbeelding van hoop as ‘n anker, is aangrypend.
‘n Anker speel ‘n baie belangrike rol in die seevaart.
In die vroegste tye was ‘n skip met toue vasgemaak aan ‘n rots, wat sou dien as anker. Later is ankers uit staal gemaak, wat dan met ‘n tou laat sak is tot op die seebedding, waar dit ingegrawe het in die sand.
Die anker van ‘n skip het twee belangrike doele:
1)Die anker hou die skip vas, sodat dit nie sou wegdrywe nie.
Seestrome of die wind kan ‘n skip wat nie ge-anker is nie, laat
wegdrywe.
Die siel wat HOOP koester, sal nooit wegdrywe nie.
Dit sal nie wegdryf na vrees, moedeloosheid en ongeloof nie.
Die anker van HOOP hou hom vas.
2)Die anker hou die skip stabiel tydens storms.
Tydens storms op see, word ‘n andersoortige anker agter die skip aangesleep terwyl dit vaar.
Hierdie anker hou die skip stabiel, en help ook dat die skip op koers bly.
HOOP is ‘n broodnodige anker tydens storms op die lewensoseaan.
Die siel wat altyddeur HOOP, gaan geestelik sowel as emosioneel stabiel deur storms. Alhoewel hy skade mag ly, en die seile van sy skip stukkend geslaan mag wees, help die anker van HOOP hom daarby om op koers te bly.
HOOP is ‘n anker van die siel!