“Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Exo 12:13).

Die oordeel van God sou val in Egipteland. ‘n Doodsengel sou besoek bring aan die oudste kind van elke huis. In daardie nag sou God se oordeel van dood gaan staan voor elke deur. In voorbereiding om hierdie oordeel af te weer, het elke huisgesin die kans gehad om die bloed van ‘n paaslam aan hul kosyndeur te smeer. Waar die doodsengel hierdie bloed sien, sou hy hierdie huis verbygaan, en spaar van God se oordeel.

Die lam se bloed en aanwending daarvan, het natuurlik al vroeg in die Ou Testament vooruitgesien na die kosbare bloed van ons Paaslam, Jesus Christus, wat redding sou bring van God se oordeel oor sonde, vir diegene wat dit sou aanneem deur bekering en wedergeboorte:

  • “want ook ons PAASLAM is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor 5:7).
  • “In Hom het ons die verlossing deur Sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van Sy genade” (Efe 1:17).
  • “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word” (Han 3:19).

Dit het nog nooit verander nie: Redding van God se toekomstige oordeel oor die wêreld en die mens, is steeds slegs moontlik deur die belydenis, geloof en aanneming van Christus se reddingsbloed. Daar is ‘n oordeelsdag aan die kom (1 Joh 4:17), en God se oordeel sal weereens by elke deur van elke hart kom stilstaan, en waar die bloed van die Paaslam gesien word – slegs daar sal die finale oordeel van God verbygaan. “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in Sy bloed, deur Hom gered word van die toorn”. (Rom 5:9)

“AS EK DIE BLOED SIEN, SAL EK BY JULLE VERBYGAAN”