“’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog” (Spr 17:22)
Verskeie studies het oor jare heen, die uitwerking van emosies op die menslike liggaam uitgewys. Daar bestaan ‘n gewisse verband tussen emosionele ervarings en liggaamlike gesondheid, soos uitgewys in bogemelde Skrifverwysing.
In 2013 het ‘n studie aan die Harvard School of Public Health aan die lig gebring, dat emosies soos woede, angs en smart premature dood met tot 30 persent kan verhoog, omdat negatiewe emosies geweldige druk op die liggaam plaas. Navorsing in Finland het bevind dat spesifieke emosies in spesifieke liggaamsdele manifesteer. Vrees, frustrasie en ongelukkigheid veroorsaak byvoorbeeld verhoogde aktiwiteit in die borskas en boonste gedeelte van die liggaam, wat uiting vind in onder andere: hipertensie, borspyn, hoofpyn, geheueverlies en hartsiektes. Aan die anderkant het dieselfde navorsing bevind dat die emosie van gelukkigheid die hele liggaam se gesondheid bevorder!
Die menslike liggaam reageer op hoe jy voel en dink. Daarom beaam ‘n studie aan die Universiteit van Texas, dat negatiewe emosies gekonfronteer moet word. Negatiewe emosies wat geignoreer word, sal versterk, en die liggaam verder afbreek tot verskeie siekte toestande.
Vind die oorsaak van negatiewe emosies, en werk daardeur. Trauma soos die dood van ‘n geliefde, egskeiding, verlies of ander lewenskrisisse benodig beslisde emosionele genesing. Ontvang die nodige terapie daarvoor. Probeer voortaan, om sover moontlik jou emosionele reaksies op lewensgebeure te kies. Sodoende kan emosionele ontwrigting ingeperk word. Werp ook voortdurend enige bekommernisse en vrese op die Here, terwyl jy streef na ‘n vredevolle en gelukkige ingesteldheid, wat jou liggaamlike gesondheid sal bevorder.
Neem verantwoordelikheid vir jou gesondheid, deur jou emosionele wereld te koester en in stand te hou. “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees” (Spr 14:30). “A calm and undisturbed mind and heart are the life and health of the body” (Amplified Bible)”.