Israel het sewe jaar lank erge verdrukking en armoede gely onder die
Midianiete, en die volk het na God geroep. In antwoord verskyn die Engel van
die Here aan Gideon met ‘n belofte van verlossing,
en gepaardgaande opdrag dat Gideon sou optree as aanvoerder (Rigters 6:1-
16).

“Die Here is met jou, dapper held”, begroet die Engel van die Here Gideon,
wat allermins heldhaftig of triomfantelik vertoon, waar hy wegkruip by die
parsskuip.
“Dapper held” is die vertaling van die Hebreuse “gibbor chayil”, wat
valour/mighty one/courageous/warrior/of great stature/hero/champion
beteken.

Ten spyte van die minderwaardigheid en swakheid wat Gideon beleef, bedink
God dus heldhaftigheid en kampioenskap vir Gideon. Trouens, Hy roep dit
profeties uit oor sy lewe, want Hy gaan dit vir hom bewerk.

Gideon se fokus was egter in beslag geneem deur sy onbelangrike familie
herkoms en geringheid. Dit het hom swak en ontoereikend laat voel. Baie
Christene trap in dieselfde slaggat. Die voortdurende fokus op jou slegte
familiegeskiedenis, foute van die verlede of persoonlike tekortkominge, sal jou
geloof vir kampioenskap altyddeur belemmer.

Verskuif dus die fokus vanaf die gebrekkige selfbestaan na die verlossende
en Almagtige God, wat aktief saam met jou op hierdie lewenspad is. Dit sal
jou gees vul met dapperheid en onverskrokke geloof, en die oorwinnende
denkpatrone van ‘n kampioen!

Gelowiges moet onthou dat die triomfantelike lewe nie uit onsself is nie, maar
deur God wat die vermoe en die krag verleen, sodat die oorwinnings van ‘n
kampioen behaal kan word.

Deur Sy seen en medewerkende ondersteuning, kan ons altyd reken op
kampioenskap in elke uitdagende lewenssituasie, asook die hele Christelike
wedloop.

Die Here is met jou, dapper held!
Deur Hom – is jy ‘n kampioen!