“Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Luk 22:32).

1.GELOOF HOU AAN, AL GLO NET JY ALLEEN (Luk 18:1-8).
‘n Weduwee het haar saak voortdurend bepleit by ‘n onregverdige regter, wat niemand ontsien het nie. Weduwee’s was destyds ‘n toonbeeld van hulpeloosheid en eensaamheid, en het dikwels alleen gestaan. Nogtans het hierdie onbelangrike weduwee se geloof aangehou, totdat die onregverdige regter wel haar saak behartig het. Moenie ontmoedig voel omdat jy alleen staan in oorweldigende krisistye nie. Geloof hou aan, al glo net jy alleen!

2.GELOOF HOU AAN, WAAR MENSLIKE HULPBRONNE OPDROOG (Luk 8:43-48).
‘n Sekere vrou het 12 jaar lank aan ‘n mediese toestand gely, waarvoor die medici opgegee het. Haar menslike hulpbronne het opgedroog. Tog het sy aangehou glo vir genesing, en dit ontvang toe Christus op ‘n dag haar dorp besoek. Steun op God, en onthou dat wanneer Hy die antwoord uitstel, dit nie noodwendig beteken dat Hy dit afstel nie. Geloof hou aan, al het enige menslike hulpbronne opgedroog!

3.GELOOF HOU AAN, WAAR LOGIKA OPHOU (Mrk 5:21-42).
Onderwyl ‘n bekommerde pa Jesus smeek om sy siek dogtertjie te kom aanraak, bring ‘n boodskapper die slegte nuus dat die kind gesterf het, en dat Jesus nie langer lastig geval moet word nie. Logika verklaar: Hou op, dit is verby! Daarteenoor roep geloof in skrille kontras uit om aan te hou! Mense mag jou uitlag, maar hou jy net aan glo! Gryp, soos Jesus, jou dooie saak aan die hand met die opdrag om te leef. Geloof hou aan, waar logika ophou!

GELOOF HOU AAN!