“As God vir ons is, wie kan teen ons wees”? (Rom.8:31)
Die apostel Paulus moes dikwels deel met fisiese sowel as geestelike ontberinge. Hy was talle kere in lewensgevaar, moes vernederende slae met stokke en selfs steniging verduur, en het ook onder gevangenskappe gely.
Te midde van al hierdie uitdagings, het hy altyd gefokus op die gedagte dat God vir hom is. Die besef aan God se liefde en vryspraak deur Christus se kruisdood (die belangrikste van alles); die verwagting van ‘n nuwe hemelse bedeling en natuurlik die ervaring van God se bystand deur alles heen, het hom triomfantelik laat uitroep: God is vir ons!
GOD IS VIR JOU!
In Sy Vaderlike genade en ontferming is Hy vir jou, om te versterk in ontberinge (Jes 43:2); te verlos uit benoudheid (Ps 50:15); te lei met raad op al jou wee (Ps 32:8) en te voorsien in behoeftes (Matt 7:11).
Omdat jy daarvan oortuig is dat God vir jou, kan jy Sy genadetroon dus altyd met groot vrymoedigheid nader (Heb 4:16).
Selfs in ons stryd teen swakheid en sonde, is God steeds vir ons, om te vergeef en regverdig te verklaar (Rom 8:33,34 en 1 Joh 1:9). Ignoreer sataniese beskuldigings – die vergewensgesinde God is vir jou, en het vir jou ‘n ewige hemelse heerlikheid voorberei!
Watter tipe inhoud of uitdagings hierdie lewe ookal mag bevat, fokus altyd daarop dat God vir jou is. Handhaaf hierdie gedagte as credo, en jy sal ondervind dat jy oorwinnend leef in alles.
GOD IS VIR JOU!!