“Ek weet dat die Here die regsaak van die ellendige,
die reg van die behoeftige behartig” (Ps 140:13).
Jakob was getroud met twee susters. Lea, die oudste, word beskryf as onaantreklik, en Ragel was mooi van gestalte (Gen 29).
Jakob het Ragel meer liefgehad as Lea, wat die “nie-geliefde” genoem was. God het dit gesien, en die verstote Lea se moederskoot geopen om kinders te baar. Haar laaste seun het sy Juda genoem, en uit hierdie geslag is die Verlosser, Jesus Christus gebore! God het die saak van die verstote, ellendige “nie-geliefde” behartig!
Job kon ook op sy ashoop soos ‘n verstote “nie-geliefde” voel.
Getref deur groot lewensrampe, beland hy as ellendige op ‘n ashoop, sonder om God iets omgerymds toe te voeg (Job 1:22).
“Wee hom wat met sy Formeerder twis – ‘n potskerf by erdepotskerwe!
Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy”? (Jes 45:9).
Wanneer onverstaanbare rampe ons oorval, verwys ons maklik na God as onregverdig of selfs liefdeloos.
Ons vergeet dat God mag het oor die klei (Rom 9:21), en onder geen verpligting is om Sy optredes aan ons te verduidelik nie.
Hy sien die volle prentjie nou – ons sien dit later.
Net soos met Lea, het God ook later Job se saak behartig, sodat sy einde beter was as sy begin, en hy ‘n vol lewe geniet het.
Christene wat soos ellendiges en “nie-geliefdes” voel, kan hierdie hoop koester: God sal jou saak behartig.