Suid-Afrikaners worstel daagliks met voortslepende korrupsie, stygende misdaad, ontoereikendheid op regeringsvlak en wanbestuur op sovele gebiede. Die magteloosheid en frustrasie hieraan verbonde kan ’n mens waarlik tot haatdraendheid dryf.
Haat beskik egter oor ’n geweldige verwoestingskrag wat jou sal vernietig. Dit sal jou innerlike vrede en vreugde aan flarde ruk en jou met voortdurende onrus, neerslagtigheid, paranoia en selfs depressie vul. Haat sal jou in elke opsig siek maak! Dit is ’n negatiewe dryfkrag wat net op verwoesting uitloop.
Christene wat innerlike konflik ten opsigte van haat beleef, ervaar geweldige skuldgevoelens omdat hulle weet dat dit sonde is om te haat.
Hoe om vry te kom van haat:
1. Bely jou haat voor God (Spr 28:13): Erken en bely die feit dat jy haat. Ontvang vergifnis daarvoor by God en neem ’n doelgerigte besluit om haat te laat staan. Die Heilige Gees sal jou bekragtig om haat te bowe te kom.
2. Bid vir hulle teenoor wie jy vyandigheid of haat beleef (Matt 5:44): Jou gesindheid en algemene gesondheid sal verander wanneer jy vir jou vyand begin bid (Jak 5:16). Gebed beskik oor ’n bonatuurlike krag wat verandering en vernuwing in jou totale wese bewerkstellig.
3. Vergewe (Ef 4:32): Vergewe aanhoudend. Vergewensgesindheid sal jou teen verbittering, wrewel en haatdraendheid beskerm.
4. Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Luk 6:27, 31): Demonstreer steeds ’n goeie waardesisteem, al verontagsaam die wêreld dit. Wees daarby konstant goed vir ander. Dit sal selfrespek onderhou, jou innerlike positief voed en haat elimineer.
Lewe vry van haat en wees gesond en gelukkig.