Ons vervalle land het nodig om die lewende God in Sy heerlike krag en glorie te sien werk.

Ons benodig ‘n Goddelike ingryping van ‘n grootskaalse herlewing oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, waar die Heilige Gees met groot krag uitgesort word.

Herlewing bring ‘n oortuiging van sonde, wat die massas aangryp met berou, belydenis van sonde, kragtige bekerings en heiligmaking. So ‘n beweging van God se Gees bring ‘n nuwe vrees vir die Here teweeg. Dit bring ook ‘n nuwe liefde: liefde vir die almagtige God en liefde vir die medemens.

Suid-Afrika het reeds in 1857 so ‘n herlewing onder die Zoeloes gesien. Sendelinge vertel hoe die massas, aangegryp deur God se liefde en oortuigingskrag, nagte in gebed deurgebring het tot die volgende oggend. Duisende het hul toorpraktyke laat staan om Christus, die Verlosser, met hart en siel te dien.

Nog meer aangrypend is die 1860-herlewing in Worcester, waarvan die eerste uitstorting in Montagu plaasgevind het. Tyden ‘n biduur in die Worcester-kerksaal, is ‘n naderende gedreun gehoor, wat die saal begin skud het (lees Handelinge 4:31). Mense het met ‘n geroep na God op hulle knieë neergeval en gepleit om vergifnis van sonde.

Hierdie herlewing het na die res van die Wes-Kaap uitgebrei en gebedsbyeenkomste met stampvol sale, het oral plaasgevind. Winkels en werksplekke het op bepaalde tye gesluit sodat mense, gedrewe deur die Gees en ‘n begeerte na God, die bidure kon bywoon. Kroeë en hofsale was leeg en mense het in harmonie met mekaar saamgeleef – want mense in ‘n greep van herlewing het een doelwit: God en God alleen!

BID VIR HERLEWING!