“’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ‘n wens wat uitkom, is ‘n lewensboom”. (Spr 13:12)
Hoop is soos suurstof vir die siel. Dit maak jou binnewereld lewendig, en dryf jou vorentoe na destinasies waarvoor jy hoop. Maar wanneer hoop uitgestel word, kwyn die siel en persoonlike lewensideale vervaag.
HOEKOM WORD ONS HOOP SOMS UITGESTEL?
1.GOD RIG SOMS PADBLOKKADES OP.
Niemand hou van padblokkades nie. Dit hou jou op en breek jou spoed. Besef net dat padblokkades op jou lewenspad, jou dalk gaan beskerm of red van ‘n tragedie wat ‘n ent verder op jou wag. By ‘n padblokkade mag jy dalk, tot groot frustrasie, gebied word om van roete te verander, en dit mag nou langer neem om jou destinasie te bereik. Onthou dan dat hierdie nuwe roete, wat nou soos ‘n ompad lyk, nuwe ontdekkings inhou. Daar sal goeie redes wees vir Goddelike oponthoud by padblokkades. Bly hoopvol, en wees geduldig met die eise wat God se padblokkades stel. Jy sal jou kans kry!
2.GOD SE TYDROOSTER VERSKIL GEWOONLIK VAN ONS S’N.
In God se tydrooster is daar vir alles ‘n bepaalde uur en tyd (Pred 3:1). Dawid verklaar ook dat sy tye in God se hand is (Ps 31:16). Jou hoop word dalk uitgestel, omdat dit nog nie tyd is vir die verwesenliking daarvan nie. Wees egter gerus, dat indien jou wense binne die raamwerk van God wil vir jou lewe val, dit op die regte tyd sal uitkom. Jy sal jou kans kry!
3.TOETSE WAT NIE GESLAAG WORD NIE, STEL ONS HOOP UIT.
Josef moes deur baie toetse gaan, alvorens God hom beproef verklaar het vir sy aanstelling as heerser oor Egipte (Ps 105:19-21). Jy gaan verskeie toetse skryf. God toets ons gehoorsaamheid, geloof, karakter, integriteit, betroubaarheid ensomeer voordat Sy aanstellings oor daardie spesiale hoop plaasvind. Ons herskryf soms dieselfde toetse, waarop nuwes weer volg. Slaag hulle, hou aan hoop – en jy sal jou kans kry!