Israel se hart was afgestomp teenoor God, daarom maan die profeet, Hosea, hulle met hierdie woorde: “Braak vir julle ‘n braakland” (Hos 10:12). Israel het geestelike vernuwing en Godsvrug benodig, en dit was slegs moontlik deur die omploeg van die hart, soos die omploeg van ‘n braakland.
Wat is ‘n braakland?
‘n Braakland is ‘n gestagneerde stuk grond, wat ongeploeg en onbewerk is. Hierdie stuk land is hard, en kan om hierdie rede geen water absorbeer, wat nodig is vir die ontkieming van voedsame saadgewasse nie. Omdat bemesting en onderhoud ook nie plaasgevind het nie, is ‘n braakland onvrugbaar, en al wat dit oplewer is dorings, distels en onkruid. Dit is dus onbruikbaar en nutteloos. Die braakland wat nooit omgeploeg word nie, sal nooit vrug oplewer nie. Dit sal nooit die prag van ‘n wingerd of ‘n goue koringland beleef nie.
Die lewe wat ongestoord in sy gemaksone wil verkeer, en altyd rebelleer teen die harde skok van die koue ploegskaar, sal verseker stagneer in ‘n onvrugbare en onproduktiewe braakland. God se ploeg steur ons vrede. Dit ruk die klippe, stompe en onkruid uit wat diep verskuil is in ons karakter en harte. Dit is seer wanneer die druk van die ploeg swaar aan die binnekant begin sny, en jou eens geruste lewe in ‘n oomblik se tyd omkeer. Die oogmerk van God se ploeg is egter nie gemik op vernietiging nie, maar dien as voorbereidingswerk, wat vooruitsien na nuwe vrug, nuwe oeste en nuwe destinasies wat God doelgerig bewerk in Sy kinders se lewens.
Gee dus vertrouend oor aan die Hand wat die ploeg vashou, en beleef in jou geestelike- sowel as algemene Christelike lewenswandel, nuwe avonture saam met God. Braak vir jou ‘n braakland!