Die vervolging van Christene is sedert Bybeltye ‘n gegewe.

Ons lees byvoorbeeld in Handelinge 4 hoedat die Joodse Raad vir Johannes en Petrus in die gevangenis gewerp het, en na hul vrylating gedreig het om nie verder in die Naam van Jesus Christus te preek nie. Hierdie nuus het die gelowiges gedryf tot die volgende eendragtige gebed: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid U woord te spreek, deurdat U U hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van U heilige Kind Jesus plaasvind”. (Han 4:29,30).

In antwoord op hierdie kragtige gebed, het die volgende wonderwerk plaasgevind:
“En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Han 4:31).

Christene en predikers staar vandag steeds vervolging in die gesig. Na beraming ondergaan een uit elke 7 Christene wereldwye vervolging, wat diskriminasie, tronkstraf, ontvoerings of moord bevat. Christene in Noord-Korea is byvoorbeeld uiters kwesbaar vir vervolging, en loop gevaar om as politieke misdadigers in strafkampe opgeneem te word. Christene in Moslem lande soos Afghanistan, vind dit onmoontlik om hul Christenskap openlik uit te leef, en bekeerde Moslems boet met hul lewens indien hulle ontdek word. Toenemende vervolging bemoeilik ook predikers se werk, en stel hul lewens in gevaar.

Mag ons soos die gelowiges van Handelinge 4 tot eendragtige gebed vir evangeliste en sendelinge toetree, en vir die volgende bid: vrymoedigheid, genesings, tekens en wonders in die Naam van Jesus Christus. En mag in die aanskoue van vervolging, ons gebede magtiglik beantwoord word deur wereldwye skuddings en uitstortings van die Heilige Gees.