
Ongeprosesseerde emosies, soos byvoorbeeld veroorsaak deur die traumas van egskeiding, dood van ‘n geliefde, misdaadverwante gebeure of enige verontregting, het toksiese emosies tot gevolg. Toksiese emosies soos woede, haat, wrok, blywende hartseer, angstigheid of bitterheid het natuurlik ‘n baie negatiewe uitwerking op die menslike liggaam.
Die Bybel praat daarvan:
“’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog ‘n verrotting vir die gebeente” (Spr 14:30).
Toksiese emosies bevorder inflammasie in die liggaamselle en inwendige organe soos die hart en niere. Voortdurende inflammasie hou besliste gesondheidsprobleme in. Klaarblyklik kan toksiese emosies in verskeie plekke binne die liggaam “gestoor” word, soos onder andere die spiere, met voortdurende spierpyne of spier styfheid tot gevolg. Hierdie slegte emosies kan ook vasgekeer word in die spysverteringstelsel, wat kan ontwikkel tot die baie ongemaklike “Chrons se siekte”. Artritis is ook soms te wyte aan die sondebok van toksiese emosies, wat verhoogde suurvlakke in gewrigte voortbring. Ekseem of psoriase is ook soms simptomaties van toksiese emosies.
Hierdie mediese toestande, wat dikwels te wyte is aan toksiese emosies, word mooi uitgedruk in die Amplified Bible: “A calm and undisturbed mind and heart, are the life and health of the body, but envy, jealousy and wrath are like rottenness of the bones”.
Toksiese emosies maak die liggaam siek! Konfronteer enige toksiese emosies. Wees erkentlik daaroor en ontvang die nodige terapie. Besluit om nie langer ‘n slagoffer te wees van trauma en ongeprosesserde emosies nie. Kontroleer daarby jou denkpatrone deur konstruktiewe denke, wat jou emosionele welsyn sal bevorder. Mag jy gesond wees: geestelik, emosioneel en liggaamlik!
