“’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ‘n wens wat uitkom, is ‘n lewensboom” (Spr 13:12).

Hoop is soos suurstof vir die siel. Dit vul jou met lewenskrag en visie. Wanneer hoop egter uitgestel word, en wense nie uitkom nie, kwyn die siel.

Ons hoop egter soms vir dinge wat nie binne die raamwerk van God se wil is nie. Daarom is dit belangrik om te probeer uitvind, of jou wense ooreenstem met God se wil. God mag egter steeds met rede, uitgestelde hoop toelaat:

1.PADBLOKKADES
Padblokkades stel jou hoop uit om betyds by jou bestemming te kom. Dit mag jou egter dalk net beskerm teen die gevaar wat wag om die volgende draai. By padblokkades mag jy dalk ook herlei word op ‘n ander pad en rigting, wat na ‘n omweg en verdere uitstelling van jou hoop mag lyk. Belangrike rigtingverandering was dan nodig.

2.VERSKILLENDE TYDROOSTERS
God se tydrooster verskil dikwels van ons tydrooster. Hoop word soms uitgestel omdat die tyd nog nie reg is nie. Dawid verklaar in Psalm 31:16 dat sy tye in God se hand is. Hy sal dus die regte ding, op die regte plek, op die regte manier en op die regte tyd – SY tyd – laat plaasvind.

3.SLAAG DIE TOETSE
Ons skryf lewenstoetse wat ons toerus en bekwaam om die volgende destinasies te bereik, of wense te ontvang. Wanneer ons nie slaag nie, word hoop uitgestel. Josef moes byvoorbeeld eers “beproef verklaar” word deur God, alvorens hy sy aanstelling as heerser sou ontvang (Ps 105:17-21). Slaag dus jou toetse, en jou wense sal uitkom.