‘n Chinese pa het vir 24 jaar nooit ophou soek na sy seun wat op tweejarige ouderdom ontvoer is nie.
Guo Gangtang het sowat 500 000 kilometer per motorfiets afgelê in sy onverpoosde soektog na sy kind, en 10 motorfietse in die proses opgery. Hy het onder brûe geslaap, was soms deur boewe oorrompel, het bene gebreek in ongelukke met sy motorfiets, en moes dikwels bedel vir geld om sy soektog voort te sit.
Agterop Guo se motorfiets was ‘n groot vlag met ‘n foto van sy seuntjie, en die woorde: “Waar is jy my seun? Ek wil jou huistoe neem”. Sy onophoudelike vaderliefde het hom vir meer as twee dekades voortgedryf, en na ‘n soektog van 24 jaar is hy beloon met ‘n hartroerende vereniging met sy kind. Sy kind was weg, en is gevind deur ‘n vaderliefde wat nooit opgehou het nie.
Hierdie teervolle en ware verhaal herinner aan die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15, waarin God se Vaderliefde uitgebeeld word.
Dit is hierdie soort liefde wat alle kinders nodig het van hul aardse pappas. ‘n Vaderliefde wat altyd hunker na sy kinders en hul beste belang. Dit is ‘n liefde wat altyd klop, altyd vergeef, altyd optel, altyd uitkyk vir sy kind, en hom altyd vind en terugbring na die huis van sy liefdevolle vaderhart.
Ware vaderliefde gee nie op, op sy kinders nie, selfs al het hulle weggeraak in die gange van die lewe. Dit is ‘n liefde wat groot opofferings maak, net soos God Sy eniggebore Seun opgeoffer het in Sy onverpoosde soektog na verlore seuns en dogters – al neem dit eeue!
Ware vaderliefde, is liefde wat aanhou!