VERLIES EN ROU
Die huidige wêreld pandemie bewerk enorme verlies aan lewens, inkomste, dit wat as normaal beskou was, ensomeer. Die mensdom is eensklaps ontwrig deur allerlei verliese, en in gevolglike rou gedompel. Toenemende rousmart is ‘n kwessie wat in die toekoms baie druk gaan plaas op mediese en kerklike versorging.
Diegene wat deur verlies geraak is, beweeg onvermydelik ‘n natuurlike rouproses binne, wat nie onderdruk moet word nie.
Die Kübler-Ross model hou 5 stadiums van rou voor:
1.ONTKENNING
Intense skok word beleef. Verslaenheid bemoeilik dit om die verlies te glo of te verwerk.
2.WOEDE
Aanvanklike skok verander in woede. Gelowiges mag selfs kwaad voel vir God, en Hom as onregverdig beskou. Intense hartseer word tussendeur beleef.
3.BEDINGING
Antwoorde word gesoek. Ondersoek word gedoen hoedat die verlies voorkom kon word. God se betrokkenheid word moontlik bevraagteken. Selfbeskuldiging word soms beleef: “As ek net vroeër opgetree het…..”!
4.DEPRESSIE
Die werklikheid dring deur. Magteloosheid vul die gemoed.
5.AANVAARDING
Erkenning aan die verlies geskied. Die persoon besef dat die verlies gehanteer moet word, en dat hy moet aanbeweeg.
Wanneer verlies gely is, is dit noodsaaklik om tyd te maak vir rou. Praat ook met ‘n berader en verkry die nodige terapie. Beplan weer jou lewe. Dit sal optimisme en entoesiasme ontlok. Verdiep jou in God se Woord, wat gesonde perspektiewe sal skep, en bydraend sal wees tot emosionele heling. Stort veral jou smart uit by God – by Hom is daar volkome genesing: “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde” (Psa 147:3).