VIER SOORTE GEBEDE MET ‘N KRAGTIGE UITWERKING

Die volgende vier soorte gebede het kragtige uitwerkings tot gevolg:

1.VURIGE GEBED
Nie alle gebede is kragtig nie. Volgens Jakobus 5:16 het die vurige gebed van die regverdige groot krag. Om vurig te bid, is om soos Christus te bid: Met “smekinge, trane en ‘n sterk geroep” (Heb 5:7). Hierdie elemente maak gebed vurig, met kragtige eindresultate.

2.GELOWIGES SE EENDRAGTIGE GEBED
Na hul vrylating, keer die apostels terug na hul medegelowiges met die nuus van dreigemente deur die Joodse Raad. Die Gemeente het daarop gereageer met eendragtige gebed, waarop die plek geskud is waar hulle saam was, en almal vervul is met die Heilige Gees (Han 4:23-31). Die krag van eendragtige gebed bring skuddings in enige realm, en bevorder die werkinge van die Heilige Gees!

3.AANHOUDENDE GEBED
Die gelykenis van Lukas 18:1-8, handel oor ‘n weduwee wat dag en nag haar saak by ‘n onregverdige regter bepleit het. Haar aanhoudende gepleit het hom uiteindelik beweeg om gehoor te gee aan haar versoek. “Sal God dan nie reg doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval”? (Luk 18:7). Moenie ophou bid oor jou saak nie. Jou aanhoudende gebed het groot krag!

4.GEMEENTELIKE VOORBIDDING
Ernstige voorbidding deur die Gemeente, het groot krag ontketen in die tronk waar Petrus aangehou was. Boeie het vanself afgeval en tronkdeure het spontaan oopgegaan (Han 12:5-10). Die krag van gemeentelike voorbidding ruk steeds boeie en tronkdeure af!